Ek is geboek vir 'n keisersnit wat 8 uur moet plaasvind op die 10de Augustus. So was ek vanplan om die oggend van die 10de eers om 6 uur in te boek. Ja mens kan beplan, maar dit is nie hoe dit uitwerk nie. Met die roetine ondersoek waarvoor ek moes gaan die dag vantevore, word daar vir my gese ek moet 3 uur die middag al inboek. Die rede, ek is mos 'n 'Staats-pasient' en betaal nie daarvoor nie. Ek gee nie om nie, hoe gaan ek geslaap kry!!!
So gebeur dit dan dat ek teen 3 uur ingeboek word en sommer al klaar siek voel omdat ek dan al my nagklere moes aantrek. Hoekom vra die nagpersoneel dan 'slaap jy nie? ...'. Moet ek hul werklik antwoord, EK, die persoon wat hospitale haat en 'n groot vrees vir naalde het. Net voor 6 uur die oggend van die 10de kom die vriendelike nag-manlike-'nurse' om vir my 'n drip in te sit. Sommer tjoef-tjaf en daar sit die naald in my hand en ek staar dit groot-oog aan voordat hy dit met die halfdeurskynende pleister 'toeplak'.
Ek kan nie werklik onthou hoe laat my man daar aangekom het nie. Al wat ek weet is dat ek so rusteloos was van half agt af dat dit gevoel het om ek kan opspring en se 'doen iemand dit tog in my plek asseblief!!'. So word ek toe op 'n ander bed gelaai en na die ouer gedeelte van die hospitaal gestoot waar die teaters is.
Al ooit Texas Chainsaw Massacare gesien? (jammer vir die spelling) dit is hoe dit gevoel het ... Ek word reg in daardie film ingestoot, met die regte ou groen dokter/verpleegster-operasieklere. Die ou mure, die silwer bakke en tafels ... 'n Gevoel van hulpeloosheid en dan sal die verpleegster wragtag vra hoekom ek nie eerder 'n spinaal wil he nie. Toe die dokter vir my verduidelik wat verkeerd kan gaan met die spinaal en dat dit sal kan voorkom of my hart gaan 'stilstaan' maar in werklikheid net stadiger klop, het ek net daar en dan besluit ... Narkose hier kom ek, vir 'n tweede keer ... So hoekom moet ek my daar in die koue gang voor die teater aan die verpleegster verduidelik?
Oorgeklim op die operasie tafel vlek ek maar my bene oop soos 'n skaap ter slagting en wag dat hulle die kateter insit. Een ding is verseker die narkose-inspuiting was vrek seer en die laaste gesig wat ek gesien het was die dokter se gesig deur die gesigmasker. En so word ek toe wakker in die hospitaalkamer net voor 12 uur, dik deur die mis en in erge pyn. Die twee inspuitings wat in my linker-bo-been gegee is het 'n bloukol gelos so groot soos my handpalm.
Dit het alles die Woensdag gebeur en is ek toe ontslaan Vrydag-middag op my aandrang en versoek. Nog nooit was ek so bly om by die huis te wees nie. Toe onthou ek, soos met my eerste keiser, hoe windelos 'n nuwe betekenis ingeneem het.
Al ooit so opgeblaas gevoel van 'n wind wat vassteek dat dit kompleet voel of jy 'n breinaald kan neem en 'n gaatjie in jou maag druk en afblaas soos 'n balon. Ongemak, en dan die melk wat inskop en dit voel of jy skeermeslemmetjies voer deur jou borste. Alles deel van die wonderlike prentjie van (weer) nuwe mamma word.
My man het aan my verduidelik dat daar goed gebeur het in die teater met my, maar soos hy dit vertel het, het ek dit uit my geheue onttrek. Ek is net so dankbaar vir nog 'n wonderlike gesonde dogtertjie, wat rustig en ontspanne is.
Die dag wat ons ontslaan is, was daar 'n nuwe mamma waar hulle nie geweet het of sy dit gaan maak nie. Daar was sprake dat hulle nog moes vasstel of die baba nog lewe en of hulle moeite sou doen om die helikopter uit te stuur. Of die ma wat binne 'n uur na die geboorte van haar baba aanmekaar wil gaan rook en hulle nie alslag weet waar sy is nie ... Ek hoop daardie baba kry kossies om te eet en kry die genoegsame aandag en liefde.
Ek is werklik bevoorreg en dankbaar dat ek lewe, my baba gesond is en dat ek 'n wonderlike man het en ondersteuning het van familie en vriende.
Dit klink soos 'n plaat wat vashak, maar die lewe is werklik te kort ... Wees dankbaar vir alles wat jy het!
Sent via my BlackBerry from Vodacom - let your email find you!
No comments:
Post a Comment