Total Pageviews

Saturday, 30 July 2011

Balke vol tevredenheid en splinters van reaksie

As jy die woord tevredenheid hoor waaraan dink jy ...?

Is dit wanneer iets met iemand gebeur wat jy verafsku; wanneer jou salaris genoeg is om 'n selfoon of motor op huurkoop kan aanskaf; wanneer jy 'n resep uit 'n nuwe resepteboek probeer en mense jou komplimenteer oor die gebak lekker smaak?

Soos ek hier sit en tik is ek soos elke ander Suid-Afrikaner met skuld en alle daagse bekommernisse. Tog voel ek vanaand meer as gewoonlik gelukkig en tevrede ... My man is in sy element om 'n vleisie te kan braai en musiek ten aanhore van ons bure te luister. My meisiekind in haar element omdat sy haar lyfie kan rondgooi op die maat van die musiek. En ek, omdat alles in die huis ge-orden en op hul plek is.

Maar so saam met die tevredenheid is my hart tog seer ... Elke aksie het 'n reaksie, en elke reaksie kan 'n maatstaf van tevredenheid wees ... Tevredenheid of afkeuring / goedkeuring van aksies deur jou doening ...

As mense nie saamstem met wat jy doen of gese het nie, laat hulle nie oordeel nie ... Haal egter die balk uit jou eie oog voordat jy die splinter uit iemand anders se oog probeer haal ...
Sent via my BlackBerry from Vodacom - let your email find you!

Thursday, 28 July 2011

Somer-vet en Winter-maer

Die reen val hard teen die vensters en die koue kruip by die venster in wat op 'n skreufie oop is vir die katte. Ek sit en wik en weeg watter tipe vertroostingskos om te maak ... Sop, pannekoek met baie kaneelsuiker, macaroni en kaas, kookkos ...

Baie mense verpes die winter, maar vir my is dit die lekkerste tyd van die jaar. Seker ook maar net oor daar niks lekkerder is wanneer my koue lyf in 'n bad warm water sy hitte kan terugkry nie. Of wanneer ek my yskoue voete in die bed sit waar die waremkombers die koue verdryf het.

Tog is dit ook lekker wanneer dit somer is en daar tot laataand in die buitelug gebraai en gekuier kan word.
Laasgenoemde seisoen is ook net lekker as jy in klere pas wat jou nie soos 'n opgestopte wors laat voel nie. Soos groot rokke wat soos wapperende tente aan mens hang om die wintervetjies weg te steek wat nog klou.

Die wintervetjies is ook maar net daar as gevolg van die vertroostingskos, maar lekker bly maar lekker. Terwyl ek nog my swangerskap as verskoning kan gebruik vir my 'winter'vetjies sal ek maar die resep uitpluk van my skoonma se potpoeding.

Een iets wat ek nie kan agterlaat as die seisoene verander nie, is my soettand. Vra maar vir my man, kom haelstorms of reenweer, sal ek roomys eet.

So as dit weer tyd raak vir somer en vetjies wegsteek agter die tent-rokke, maak net seker jy voer jou vriende vet of kry meer vet vriende, ten minste dan sal jy maerder vertoon langs hulle. Ek gaan maar sukkel om maerder te vertoon langs enige iemand, aangesien wanneer ek langs my man staan ons lyk soos Laurel en Hardy ...hy lank en maer en ek kort en rond ...
Sent via my BlackBerry from Vodacom - let your email find you!

Monday, 25 July 2011

Krewe in 'n sak En emmers vol water

So 'n hele paar jaar gelede het my man se vorige werkgewer vir hom iets vertel wat so gepas is in ons daaglikse lewe ...

Ons almal is soos krewe in 'n sak, voel vasgevang en wanneer een kreef bo probeer uitkom trek die ander hom terug ...

Wat is dit met ons dat ons soos 'n klomp krewe mekaar nie 'n uitkoms gun of plekkie in die son nie? Is ons bang ander maak 'n sukses van hul lewens, terwyl ons nog vasgevang voel in ons sukkel-bestaan?

Tog, soos ek genoem het aan iemand begin van hierdie jaar, as jy dit regkry om jou hand in 'n bak water te druk en daar 'n spasie bly, is jy onmisbaar. Dink dit is meer 'n geval van vervangbaar as onmisbaar ...

In baie gevalle kan jy in 'n oogwink vervang word, maar daar sal 'n tyd kom dan mense besef dat keuses wat uitgevoer word om iemand te vervang nie noodwendig 'n goeie een was nie ...
Soos ons almal weet en al die woorde gespreek het "die wiel sal draai", ek dink dit is eerder "as die bak water 'n gat inkry ..." ... Dan spartel mense om die water wat uitgeloop het vol te kry of te vervang ...

Ek weet ek praat in raaisels vandag, maar ek het eerder toegelaat om water uit my emmer te laat verdamp ... Ten minste het ek nie my emmer met opset omgeskop soos soveel ander wat ek ken nie.

Pas jou emmer water of sak vol krewe op, dit hang egter van jou af watter een jy die swaarste aan wil dra of watter een jy oppas.
Sent via my BlackBerry from Vodacom - let your email find you!

Friday, 22 July 2011

Geduld

Toe geduld uitgedeel is die dag, was ek op 'n 'smoke-break'.

Hoekom is dit so moeilik om geduld aan te leer? Neem dit 'n spesiale tipe persoonlikheid of is dit iets wat mens geleer word van kleintyd af? As iemand die antwoord op daardie vrae kan gee, asseblief moenie skaam wees om te deel nie ...

Myns insiens is dat ek so oorgretig is om ordentelike vinnige diens te kry of dadelik 'n antwoord te wagte te wees, dat geduld as enige tipe vorm van bestaan by my verbygaan.

Om geduld te he is om te leer om te wag, wag kan ons Suid-Afrikaners goed doen ... Skakel maar vir een van ons voorste telefoondiens-navrae en jy word getroos met 'n deuntjie wat veronderstel is om jou te laat vergeet hoekom jy in die eerste plek geskakel het.

Ons praat nie eens van die dienste wat gelewer word deur die regering of banke nie ... Lang toue en dan uit te vind jy was in die verkeerde ry ...

Of jy die gawe het om geduldig te wees of soms soos ek wat ongeduldig is, een ding is verseker ... As jy in Suid-Afrika woon sal jy gedwing word om geduld aan te leer, of jy daarvan hou of nie.

Sent via my BlackBerry from Vodacom - let your email find you!

Thursday, 21 July 2011

Huwelik en egskeiding

In die week het ek na die laaste opname van die program gekyk van Oprah. Sy het iets gese wat so waar is, 'everyone wants to feel validated'...

Ek kan nou nie onthou wat is die afrikaanse woord daarvoor is nie, maar dit is SO waar. Ons almal wil voel ons beteken iets vir iemand en dat dit wat ons se gehoor en verstaan word.

Ons vrouens is mos 'n ingewikkelde spesie en mans kla gedurig hulle verstaan ons nie. Dink tog ons as vroue voel by tye ook dat ons mans nie verstaan nie. Die verskil is dat ons ons mans so goed ken en meestal weet wat hulle gaan doen en se. Dit kan egter nie van alle mans gese word dat hulle ons so goed ken nie.

Dit is ook een van die faktore, buiten seks en geld, hoekom die egskeidingsyfer so hoog is: kommunikasie.

Dit is nie meer soos in die verlede, wanneer jy geskei is, as groot skande beskou word nie. En ek wonder of dit soms as 'n maklike uitweg beskou word? As jy ongelukkig is en die ander party nie saam wil werk aan die huwelik nie, sal dit seker die makliker uitweg is.

Ek praat nie eens van die emosionele en fisiese mishandeling wat kan voorkom in die raamwerk van die huwelik nie. Alles kom rooskleurig voor wat die huwelik betref, maar soms versteek dit wat kan gebeur wanneer mense verander.

Huwelik en egskeiding is nie die twee woorde wat jy saam gebruik wanneer jy dink aan trou nie. Slegs die prentjie van gelukkige sorgevrye dae met die perfekte huis, kinders, werk en saam oudword word aan gedagdroom.

Ek wonder soms hoe die ouer mense wat op die ouderkom van sestien, sewentien getroud is, dit regkry om nog getroud te wees.

Die aspekte rondom die huwelik en egskeiding het soveel diepte, dat mens 'n boek kan skryf daaroor. Al wat ek vra is dat jy jou tyd neem om iemand te leer ken voordat jy trou, want as daar eers kinders is en jy sou skei is dit hulle wat aan die kortste ent trek. En as jy egskeiding in die gesig staar, vir watter rede ookal ... Daar is iemand daar buite wat weet waardeur jy gaan. Jy sal weer eendag gelukkig wees al dink jy nie so nie ...

'Validation does not need to be your only salvation ...find peace in who you are and going to be, either with a life-partner or alone ... Keep your head up and the stars in your eyes, because others does not need to be the only reason you smile!' ...
Sent via my BlackBerry from Vodacom - let your email find you!

Wednesday, 20 July 2011

Doer in die verte

Wanneer die haddidas skree dink ek terug aan die droe gras in die transvaal en die warm somersaande.

Ek mis ook die gesig van die kosmosse wat bosse en bosse langs die pad staan en pruik het. Mooi in wit, pienk en pers.

Ons was al oral in Suid-afrika en tog toe ons so 'n ruk gelede nog na die rooi grond gestaar het in die Noord-kaap het ek verlang na die geraas van die seevoels en die reuk van vars seewater.

Daar word gese, wees versigtig waarvoor jy wens, aangesien ons toe wel teruggekom het Weskus toe. Nou is die reuk van 'vars seelug' vervang met die reuk van vismeel. Ek is soms te bang om my wasgoed op te hang, te bang die reuk trek in die klere in. My man se mos dis die reuk van geld ... Seker waar, maar dit is nog steeds onaangenaam.

In Kathu was alles weer vol rooi stof, soos die wind dit ingedra het en nie eens te praat van die ou pragtige 'klein' reenspinnekoppies wat 'n volwasse man sal laat skree soos 'n dogtertjie nie. Die mooi sonsondergang wat teen die rooi duine skyn en die doringbome wat in rye en rye soos 'n oerwoud voorkom.

So het ons elkeen ons gunsteling onthou oomblikke van plekke waar ons al was. As mens maar net alles in een plek kon vind, kosmosse, seelug en rooi grond ... Natuurlik sonder die spinnekoppe. Hoe wonderlik sou dit net nie wees nie.

Doer in die verte blyk alles beter te wees en mooier, maar verhuis na 'n ander streek en jy mis waar jy was.

Waardeer die mooi dinge waar jy nou is en as daar 'n onaangename reukie is, knyp maar jou neus toe met 'n wasgoedpennetjie ...


Sent via my BlackBerry from Vodacom - let your email find you!

Tuesday, 19 July 2011

So gelukkig soos 'n anti-depressant

Daar is van ons wat al een of ander stadium te doen gekry het met depressie, hetsy jy dit al self beleef het of iemand ken wat dit gehad het of het.

As jy 'n vrou is en dalk al swanger was en deur die swangerskap depressie ontwikkel het verstaan ek goed waardeur jy gaan. Daardie donker gat wat nimmereindigend voel. Tog sit jy 'n glimlag op jou gesig en niemand weet nie.

Ek het gedink daardie tipe ding gebeur net met ander mense of dit is net stories wat jy lees in tydskrifte. Post natal depression ... Hmmm, wat noem mens dit as jy dit gedurende swangerskap ook het en soos in my geval gehad het toe ek swanger was met my eerste kind. Dit is iets wat ek niemand toewens nie en dit is nie 'n skande as jy dit het nie. Kry vir jou die medikasie by jou dokter, jy hoef nie heeltyd te voel soos 'n lopende tydbom nie.

Hormone is 'n snaakse ding, mans dink mos ons gebruik dit net as verskoning vir ons buie. Dit is egter iets waarmee mens nie grappies maak nie, vra maar vir die vroue wat nou deur menopause gaan, of die wat gereeld pms het. Wonder hoe sou die mans gevaar het as hulle so 'n handvol van jou emosies ten tye van pms gehad het ... O nee wag, daar is mans wat so 'n siekte het, ons noem dit PSS: Pre-Sperm-sindroom ... Ja ok, dit is seker lelik van my, maar daar is van hulle wat daardie siekte het.

Om weer soos jou ou self te voel, voor die depressie, het ons ongelukkig medikasie nodig. Die medikasie kan dalk voorkom in die vorm van iemand wat net kan luister en as jy die pilletjies nodig het ...'So What..' Ten minste het jy die hulp gekry wat jy verdien.

Ek is hierdie keer met my tweede swangerskap egter gelukkig, ek het nog nie 'n teken van depressie agtergekom nie. En as dit moontlik gebeur na my bevalling, sal ek so gelukkig wees soos my volgende anti-depressant ... En ek sal dit neem een dag of pilletjie op 'n slag tot ek weer beter voel.

En as jy wil skinder daaroor en dit jou maak beter voel, gaan maar voort ... Dit maak vir my die wereld se verskil om eerder daar te wees met 'n gesonde gees en gevoel, as my te bekommer dat my naam sal rondloop met die kenteken of brandmerk as depressielyer.
Sent via my BlackBerry from Vodacom - let your email find you!

Vergewensgesingheid

Vergewe en vergeet ... Vir party van ons makliker gese as gedaan.

Sodra jy jou in 'n situasie bevind waar jy tot in jou diepste wese seergemaak was of is, kan dit moeilik wees om dit wat jou seergemaak het te vergeet. Ek noem vergeet juis eerste, want ons is vinnig om te se jy vergewe, wat nie altyd die waarheid is nie.

As jy wil weet of daardie persoon jou werklik vergewe het, baklei net 'n slag weer en kyk of die ou koeie uit die sloot klim. Partykeer word daardie ou koeie uitgetel omdat die persoon voel dat jy nie besef hoe seergemaak hy of sy werklik was en nog steeds is nie.

Onthou dat 'n persoon jou slegs kan seermaak as sy of haar opinie of menings vir jou belangrik is en ook net as daardie persoon 'n rol speel in jou lewe. Hoekom jou steur aan mense wat jou gevoelens seermaak wat nie die energie werd is nie.

Party mense is swartgallig en gun nie iemand hul geluk nie en wat ook uit hul pad sal gaan om ander af te kraak. Dit is nie jou skuld hulle is jaloers en begeer wat jy het nie, laat hulle woorde 'soos water oor 'n eend se rug' val en vergewe hulle.

Vergewe hulle volkome, want jy is beter as om op dieselfde vlak te daal as wat hulle is.

Vergeet heeltemal wat hulle spreek, want daardie swartgalligheid kan vasklou aan jou.
Sent via my BlackBerry from Vodacom - let your email find you!

Sunday, 17 July 2011

Onderdanigheid en Respek

Die dae van slawerny is nie werklik iets van die verlede nie, al dink ons so.

Wie van ons het nie al een of ander tyd gevoel of sloof ons af vir iemand wat dit nie waardeer of raaksien nie. En moet tog nie dat ons begin praat oor of ons voel ons word genoeg betaal vir wat ons doen nie ... O Nee, aan die begin by 'n nuwe werksplek sal mense altyd vir jou die goeie goed vertel van 'n plek ... Wag maar so 'n paar maande, dan hoor jy hoe onderbetaald en oorwerk mense is.

Ek sal toegee, daar is plekke wat mooi na hulle 'slawe' omsien en net genoeg doen om hulle tevrede te stel. Die lewe word egter duurder en die klimraam wat salarisse betref het iewers langs die pad 'n trappie of ses gebreek.

Elke oggend gaan ons werk toe om die werk te doen wat jy nie altyd van hou nie. As jy van jou werk hou is jy een van die min gelukkiges.

Onderdanigheid is wat van ons verwag word ... Ons moet onderdanig wees aan die groter gesag, die gesag wat jou salaris betaal aan die einde van die maand.

Respek en onderdanigheid gaan nie gewoonlik hand aan hand nie. Jy kan dalk onderdanigheid afdwing, maar nie respek nie. Wanneer verdien jy respek? Dalk as jy die masjien aan die loop gekry het wat niemand gedink het jy kan nie ... Dalk omdat jy bereid is om daardie ekstra ure in te sit en die werkslading wat hopeloos te veel is in te haal ... Dalk wanneer jy die tyd neem as baas om vir vyf minute te sit en gesels om te hoor hoe dit gaan ... Dalk beteken nie noodwendig dit gaan gebeur nie.

Skuif die onderdanigheid opsy en besef sonder mekaar kan jy nie 'n sukses maak van 'n besigheid nie ...definieer dan die woord respek en sien dan dat elke mens se verduideliking nie dieselfde is nie.

Onderdanigheid word dalk verwag, maar respek is 'n wedersydse gevoel wat nie net van eenkant af verdien word nie.

Jy sal weet of jy die respek van iemand verdien het as hulle nog goeie goed te se het oor jou as jy nie meer daar is nie ...
Sent via my BlackBerry from Vodacom - let your email find you!

Saturday, 16 July 2011

Rokkies wil sy dra ...

Daar was mos so 'n liedjie as ek reg is ... maar dit is geen lied as jy die afgelope tyd lyk soos 'n tent in 'n rok nie.

My meisiekind wil net rokkies dra die afgelope tyd, selfs 'n romp tel as 'n rok. Waar is die tyd toe vrouens met trots 'n rok kon dra, maar daar was ook 'n tyd as jy 'n broek aangetrek het kerk toe waar jy skeef aangekyk is. Tye verander en ek wonder of daar nog werklik van die ander geslag is wat hou van die beeld dat 'n vrou 'n rok aantrek. En ek praat nie nou van rokke wat kan deurgaan as 'n voorbeeld van 'n vergrote belt nie.

Klere het vreeslik duur geraak en as jy kyk wat jy deesdae betaal vir net onderklere is dit 'n wonder mense dra nog enigsins iets om die skaamte te bedek. Seker die dat klere kleiner word ... moet mos wees, hoe kleiner die kledingstuk hoe minder betaal jy. Maar natuurlik maak ek net 'n grap, kyk maar net hoeveel betaal jy vir 'n bikini.

Kledingstukke het 'n simbool van status geword en moet tog net nie dat iemand wat nie by P.E.P koop en net groot handelsnaam kledingstukke uitvind jy het iets by P.E.P gekoop nie ... daardie kyk en dan "... het Pep sulke klere ..." of selfs A.C Kermans ... ja daar is van ons gewone mense wat daarvan hou om eerder met vyf kledingstukke by 'n "goedkoper" winkel uit te stap in plaas van een broek of hemp vir dieselfde prys. Nie dat ek neerkyk op mense wat dit kan bekostig nie, allermins ... as jy kan hoekom nie.


Al ooit daaraan gedink om 'n patroon te kry en self jou klere te maak? Ja ek weet dit is moeite, maar ek is seker jou beursie gaan breer glimlag ... die brandstof wat jy spaar om na die winkelsentrum te ry, jou tyd wat jy spandeer aan soek vir die regte kledingstuk en natuurlik die uithaal van fondse vir jou klere ... Gaan eerder na een winkel, materiaalwinkel waar jy al jou patrone en materiaal kry. As dit nie reg uitkom die eerste keer nie, moenie komkommer nie ... jy spandeer ten minste jou tyd om 'n (nuwe of ou) vaardigheid aan te leer of hernu.

Friday, 15 July 2011

Vroue en motors

Om een of ander rede dink mans ons vroue is absoluut "clueless" as dit kom by motors, nie almal van ons is nie, ek belowe dit ...

Ek sal nou nie 'n motorengine kan oordoen nie of weet hoeveel perdekrag die motor of daardie motor uitstoot nie, maar ek waardeur 'n goeie motor as ek een sien. Het julle al gesien hoe opgewonde mans raak as hulle praat oor een of ander motor ... die gesprek begin gewoonlik met "...het jy gesien / gehoor ..." en dan trek hulle los met volle vaart en 'n gesprek wat vir ure kan duur. En natuurlik die kompeterende sy van die tipe maak van die motor, van Volkswagen, Audi, Mazda tot Toyota.

En natuurlik kan 'n man vir jou 'n situasie verduidelik waar hy motors gebruik om 'n vergelyking te tref ... seker omdat ons as vroulike spesie te simpel is om die eenvoudige te verstaan ne.

Het gister die onderwerp opgebring van "stock-cars" en dis nogal iets wat ek mis ... van die midgets tot die V8's ... laasgenoemde my gunsteling om te kyk. Daardie dreuning om opgewondenheid mee te bring wat enige vrou se hart laat vinniger klop ... Oraait, oraait, seker nie enige vrou nie ... nie alle vrouens hou van die gedreun of lawaai nie. Hoe sal "stock-cars" wees as dit gehou word met sonaangedrewe voertuie ... vrek stil en die gees van die byeenkoms sal ook nie dieselfde wees nie ...

As jou man of vriend vir jou 'n motor kon kies, wat sal dit wees? Ek is nie seker of my man vir my net een gepaste motor sal kan kies nie ... daar is te veel waarvan ek hou. Die ou motors, dit is nou Chev tot Mustang's, is ook van my gunstelinge ... nou nie dat ek weet presies watter jaar hulle uitgekom het nie, of dit nou 50's of 60's is, mooi bly maar mooi.

Ek geniet dit net soveel soos my man om na motorprogramme soos Top Gear of La't Wiel te kyk, dit maak nie van my minder vrou of 'n onnosele dom poppie nie.

En Meneer, as jou vrou nie 'n motorliefhebber is nie, moenie haar blameer nie ... nie almal van ons vroulike spesie het 'n tikkie meganiese bloed in ons nie ... "ek" is "seker" maar net gelukkig (seker maar vanuit my man se oogpunt) ...

Nie almal se belangstellings is dieselfde nie, maar ons kan probeer om mekaar se belangstellings te deel ... ja reg, asof my man skielik 'n belangstelling sal toon in naels doen ...

Thursday, 14 July 2011

Van Volkspele tot Toi-Toi

Maak nie saak watter ouderdom jy is nie, maar een of ander tyd het jy een van die twee gesien ... volkspele of toi-toi. Jy kan dalk vaagweg onthou in geskiedenisboeke hoe toe tannies in hul voortrekkerkappies gelyk het, maar die toi-toi sien jy omtrent elke week op die televisie.

Ek kan nog onthou ons het een of ander stadium in die laerskool volkspele beoefen en later jare die "toi-toi-dans". Jong ek is nie seker oor die spelling van dit nie, maar hier gaan dit, die ippi-tombi-dans. Ons almal wikkel ons lywe of verskillende maniere op verskillende ritmes. Van ons hou van trekklavier-musiek en ander die geraas wat klink soos 'n kettingsaag.

Hoe snaaks sal dit net nie wees om 'n wit massa te sien toi-toi nie of 'n swart massa wat volkspele doen nie. Ja die prentjie kon anders gelyk het vandag, maar ek probeer maar die humor sien in wat was en wat nog kan gebeur. Dit is nie onmoontlik dat volkspele weer 'n tradisionele dans word nie, sal ek dit maar met 'n skuinslaggie en tong in die kies se. Waar in jou lewe sal jy dit weer beleef. Ons jong kinders tel dit dan op hoe om te "bootie-bump" en dan is hulle nog nie eens op skool nie. Ek het maar eers so 'n jaar terug uitgevind wat daardie woord beteken, maar my agterstewe is nie so los om dit al te probeer het nie.

Hoe lekker lag kry ek nou met 'n geestes prentjie van my ouma of oupa wat die bootie-bump probeer. Ag wat, ons moet darem kan lag of net glimlag om die lewe in 'n ligter luim te plaas. Meeste goed in die lewe is so ernsitg.

Volgense keer as mense wil staak en werklik wil aandag trek moet hulle 'n tradisionele volkspeledans doen, DAN moet jy sien hoe hulle aandag trek. Dit sal nou 'n hoofopskrif wees wat niemand sal vergeet nie.

Ag wat, of jy nou wil volkspele doen of wil toi-toi by tye, wikkel jou lyf terwyl jy nog die energie het. Wanneer jy eendag op die ouetehuis se stoep sit met die geruite komberse oor jou kniee, sal jy dalk wens jy kan enige vorm van beweging nog doen en onthou hoe jy jou lyf gewikkel het.

So wanneer jy daardie verhoging kry toi-toi bietjie van dankbaarheid in jou baas se kantoor en as hy/sy dit nie wil gee nie, doen die volkspeledans om jou misnoe te toon. As jy nie weet hoe om laasgenoemde te doen nie, soek dit op op die internet ... iewers sal daar sekerlik iets wees daaroor.

Wednesday, 13 July 2011

Tevredenheid

Ek wonder of dit werklik 'n woord moet wees ... tevredenheid ...

So 'n hele paar terug het ek 'n afgetrede landdros 'n boek help tik genaamd Gestruktureerde Chaos. 'n Gepaste naam vir die regsprofessie en wat hy alles beleef het as opkomende landdros in die apartheidsjare. Ten tye van die neerle van woorde na skrif was ons besig om sy egskeiding te behartig. 'n Paar weke na die boek klaar getik is, is die afgetrede landdros oorlede in 'n motorongeluk. Wat hy nagelaat het was sy herinneringe op papier ... Ek het dit al vir 'n paar mense gestuur om te lees, weet nie eers of sy kinders en (amper eks-)vrou weet van die boek nie. Weet ook nie of dit gepubliseer is nie. Jip, hier is ek alweer wat iemand se bestaan wil laat onthou en voortleef, seker 'n swakheid wat ek het.

Wie van ons is werklik tevrede met wat ons het of wie ons is? Jare ... jare terug toe jy nog op die skoolbanke gesit het en gedagdroom het oor wat jy gaan doen met jou lewe en hoe jy dink dit gaan wees ... ekke ... hmmm, sou 'n silwer volla ry, my eie woonstel he en kunste geswot het ... of enige iets wat met teken te doen het. Waar beland ek toe? Van timmer en kap tot die wonderlike wereld van die regte. Nee, nie as prokureur gaan leer nie .. met watse geld ... kon seker 'n plan gemaak het, maar ek het nie gedink ek sal so lank as regssekretaresse werk nie. Daar was tye wat ek geensins tevrede was met die werk of mense saam met wie ek gewerk het nie. Het nie altyd saamgestem met wat gebeur nie, maar later het ek dit begin geniet. Daar was tog 'n manier wat ek mense kon help, help wat 'n skouer nodig gehad het om op te huil of net 'n oor om te luister hoe moeilik die lewe hulle behandel. Dit het my die tevredenheid gebied by tye dat ek in 'n mate nuttig was om iemand se las te verlig.

Meeste van ons dink met ons gaan dit die slegste ... maar daar is soveel mense wat jy verby loop in die strate of winkel en nie eens weet waardeur hulle gaan nie. Die man wat sy vrou aan die dood afgestaan het vir 'n "roetine" operasie net voor hulle op vakansie sou gaan; die vrou en kinders wat deur haar hoogs beroepsgeleerde man by tye in die kamer toegesluit word sonder kos; die drie vriendinne wat giggel en 'n arme seun fals beskuldig het van verkragting ... ja met ons almal gaan dit een of ander tyd sleg, maar niks waaroor ons werklik kan kla nie.

So ook het ek 'n man ontmoet wat nie werklik wou skei nie en daar net vertroosting was wat ek hom kon bied deur te se dat die Here 'n plan het met alles en dat daar dalk nog hoop is ... een middag was hy oppad na ons kantore vir 'n konsultasie en het 'n vragmotor afgejaag gekom na 'n kruising waar daar gedurig ongelukke plaasvind ... die uiteinde ... hy is opslag dood 200 meter van ons kantoorblok af. Die groterige sedan motor het gelyk na 'n mini vanuit ons kantoorvensters. Sy seun en (amper eks-) vrou was later by ons kantore en al vertroostende woorde wat ek haar kon bied is dat hy die laaste paar weke baie oor die Here gepraat het. Ek wonder of jy dan eers besef hoe onbenullig dit is om oor klein goedjies te baklei en tog vrede sou kon maak ...

Spyt kom altyd te laat en dit leer ons almal een of ander tyd in ons lewens ... maar ek dink tevredenheid kom altyd te laat ... as jy eerder tevrede is of leer om te wees oor wat jy nie kan verander nie sal soveel dinge anders wees.

Eendag lank lank gelede

Ek onthou nog 'n boek wat ons op skool gelees het waar die storie begin met "hulle het lank en gelukkig saam gelewe" ...

Sal nogal wonderlik wees as almal se lewens soos 'n sprokiesverhaal kon wees. Tog hou party mense van voorgee ... of is dit ons wat te onnosel is om te sien dat mense net voorgee en nie wys wie hulle werklik is nie. Mens is geneig om gevolgtrekkings te maak van wat ons sien, soos al die fotos van "goeie" tye, maar wie van ons sal fotos toon waar dit sleg gaan ... wie neem in elk geval sulke fotos?

Dit laat my dink aan kiekies wat die ouer mense nog geneem het op begrafnisse ... ons doen dit nie meer nie, of sal ek eerder se nie van die mense wat by die grafte treur nie. Neem fotos na of voor die tyd, aangesien meeste families mekaar net sien op troues en begrafnisse en tog 'n herinnering wil he van hoe daardie persoon of persone nou lyk.

Wat is jou gunsteling "onthou" oomblik van toentertyd? Myne is die gekraai van hoenders vroeg in die oggend, radio wat speel in die vroegoggend ure waar ouma en oupa sit en gesels of die laat aande nadat ek terug gekom het van 'n dans en ek en my ma koffie sit en drink het en gesels oor wat alles gebeur het.

Wat vir my ook wonderlik is, is die ou kiekies van mense jare gelede, maar tog ook hartseer aangesien ek nooit vir ouma kon vra wie al die mense in dit is nie. Die stories wat vertel was van die persone in die kiekies of selfs die verlore briefie of drie toe ons nog vir mekaar geskryf het.

Ons doen nie meer die moeite om vir mekaar te skryf nie ... dit is so waar wat 'n vriend nou onlangs gese het ... "ons braai minder by mekaar, omdat daar te veel ge"facebook"; ge"twitter"; ge"email" of ge"bbm" word" ... dit is nou vinniger om kontak te maak met mekaar en te hoor hoe dit gaan, maar die fisiese kuiertjies raak minder.

Wat gaan jou / ons kinders eendag onthou van "lank lank gelede"? Dit wat ons vandag doen, maak die "lank lank geledes" vir ons kinders. Probeer plek skep in jou lewe waar jy herinneringe maak wat altyd na aan die hart van jou kinders kan wees.


Of dit nou die reuk van anysbeskuit en moerkoffie is, 'n kampeerplekkie iewers in die bos of vakansieplekkie by die see ... een of ander tyd skep jy 'n blywende goeie lank lank gelede ... moet dit nooit vergeet nie!

skrop*skrop soos 'n moederhen

Goeie More aan al die moederhenne / of hane indien daar eniges is ...

Al ooit gevoel jy bly skrop om bo te bly? Wel, ek is seker ons almal het op een of ander stadium so gevoel, hetsy emosioneel of finansieel.

Hoekom is dit dan altyd so moeilik om mense te kry om jou by te staan wanneer jy in daardie verknorsing is? Het ons standaarde as menswees so verander? Vroeer jare kon jy die telefoon optel en binne minute is jou vriend / vriendin by jou om jou by te staan. Die lewe het so gejaagd geword, dat ons nie meer tyd maak vir mekaar nie en verstrengel raak in ons eie lewens.

So amper twee jaar gelede na die afsterwe van 'n goeie vriend, het ek tot die besef gekom dat ons lewens meestal 'n gejaag na wind is. Nog net soveel ure voor dit gebeur; nog net soveel dae voordat dat gebeur en nog net soveel dae / weke voor "payday" of vakansie of daardie beloofde bonus. Die liedjie "I still haven't found what I am looking for" was so 'n gepaste liedjie by sy begrafnis, aangesien net voor sy afsterwe daar groot dinge in afwagting was wat vir hom en sy gesin wat 'n mate van vryheid sou bied. Of sal ek dit so stel, 'n lewe van gemak en minder gejaag. 


Al ooit gemerk hoe hoenders skrop en soek en soek en nie altyd kry nie, maar tog nie moed opgooi om te vind nie. Dit is seker hoe ons as mense is, skrop-skrop na iets ... elke dag vir eendag as ek dit kry ... maar ons is soos daardie hoenders wat skrop en nie die ander om ons sien wat ook skrop om te vind nie. Ons het mekaar nodig vir voortbestaan, maar vind eerder die tyd om te skinder of te vertrap of sommer net mekaar sleg te praat oor ons nie mekaar verstaan nie. 


Die moontlikheid dat ons mekaar oordeel voordat ons die volle storie agter daardie persoon ken is alte goed. Al ooit die tyd geneem en gevra hoe dit gaan met jou kollega, vriend of vriendin? 'n Bietjie vriendelikheid gaan 'n ver pad ... more is hulle dalk nie meer daar nie en is dit te laat om te uiter Dankie dat jy altyd vir my glimlag, geduldig was .. of wat ookal jy eers besef tot dit te laat is.

Een ding wat my ook so omkrap is as mense lieg ... jy weet presies wat aangaan, maar hulle lieg nog blatant in jou gesig. Hoekom doen ons dit? Is die waarheid so moeilik? Of het julle al gevind hoe "fantasties" dit is om saam met mense te werk wat heeldag kla (ja met 'n vet tong in die kies gese natuurlik) ... ag man, ek is sarkasties as ek dit se ... het dit al 'n paarkeer ondervind en dan maak dit mens mos so optimisties oor die lewe. En hoekom is dit dan so moeilik om net prontuit vir daardie persoon te se "hou op kla!", sekere mense is bang om mekaar se gevoelens seer te maak ... maar dit is waar dit seker inkom dat jy geduld moet he en verstaan hoekom daardie persoon se kla.

Dit is omdat ons 'n verwagting in die lewe skep vir onsself ... en wanneer daardie verwagting nie bereik word of iets gebeur soos ons wou he dit moet gebeur nie, maak dit ons negatief of teleurgesteld. So hou op om verwagtinge te skep en neem elke dag of situasie soos dit gebeur.

Ek het al gevind dat ek bly skrop soos 'n moederhen wat meeste van die tyd die goed in mense sien en help skrop aan ander mense se soeke. Tog moet ons 'n tikkie versigtig wees hoe ver jy help om te skrop, aangesien daar mense is wat jou totaal en al gebruik.

So skrop versigting na jou soeke, help ander, wees vriendelik en geduldig ... hou op lieg en kla en wees dankbaar vir wat en wie jy het ... en as jy moet kla, kla dat die lewe jou te goed gehandel!