Ek wonder of dit werklik 'n woord moet wees ... tevredenheid ...
So 'n hele paar terug het ek 'n afgetrede landdros 'n boek help tik genaamd Gestruktureerde Chaos. 'n Gepaste naam vir die regsprofessie en wat hy alles beleef het as opkomende landdros in die apartheidsjare. Ten tye van die neerle van woorde na skrif was ons besig om sy egskeiding te behartig. 'n Paar weke na die boek klaar getik is, is die afgetrede landdros oorlede in 'n motorongeluk. Wat hy nagelaat het was sy herinneringe op papier ... Ek het dit al vir 'n paar mense gestuur om te lees, weet nie eers of sy kinders en (amper eks-)vrou weet van die boek nie. Weet ook nie of dit gepubliseer is nie. Jip, hier is ek alweer wat iemand se bestaan wil laat onthou en voortleef, seker 'n swakheid wat ek het.
Wie van ons is werklik tevrede met wat ons het of wie ons is? Jare ... jare terug toe jy nog op die skoolbanke gesit het en gedagdroom het oor wat jy gaan doen met jou lewe en hoe jy dink dit gaan wees ... ekke ... hmmm, sou 'n silwer volla ry, my eie woonstel he en kunste geswot het ... of enige iets wat met teken te doen het. Waar beland ek toe? Van timmer en kap tot die wonderlike wereld van die regte. Nee, nie as prokureur gaan leer nie .. met watse geld ... kon seker 'n plan gemaak het, maar ek het nie gedink ek sal so lank as regssekretaresse werk nie. Daar was tye wat ek geensins tevrede was met die werk of mense saam met wie ek gewerk het nie. Het nie altyd saamgestem met wat gebeur nie, maar later het ek dit begin geniet. Daar was tog 'n manier wat ek mense kon help, help wat 'n skouer nodig gehad het om op te huil of net 'n oor om te luister hoe moeilik die lewe hulle behandel. Dit het my die tevredenheid gebied by tye dat ek in 'n mate nuttig was om iemand se las te verlig.
Meeste van ons dink met ons gaan dit die slegste ... maar daar is soveel mense wat jy verby loop in die strate of winkel en nie eens weet waardeur hulle gaan nie. Die man wat sy vrou aan die dood afgestaan het vir 'n "roetine" operasie net voor hulle op vakansie sou gaan; die vrou en kinders wat deur haar hoogs beroepsgeleerde man by tye in die kamer toegesluit word sonder kos; die drie vriendinne wat giggel en 'n arme seun fals beskuldig het van verkragting ... ja met ons almal gaan dit een of ander tyd sleg, maar niks waaroor ons werklik kan kla nie.
So ook het ek 'n man ontmoet wat nie werklik wou skei nie en daar net vertroosting was wat ek hom kon bied deur te se dat die Here 'n plan het met alles en dat daar dalk nog hoop is ... een middag was hy oppad na ons kantore vir 'n konsultasie en het 'n vragmotor afgejaag gekom na 'n kruising waar daar gedurig ongelukke plaasvind ... die uiteinde ... hy is opslag dood 200 meter van ons kantoorblok af. Die groterige sedan motor het gelyk na 'n mini vanuit ons kantoorvensters. Sy seun en (amper eks-) vrou was later by ons kantore en al vertroostende woorde wat ek haar kon bied is dat hy die laaste paar weke baie oor die Here gepraat het. Ek wonder of jy dan eers besef hoe onbenullig dit is om oor klein goedjies te baklei en tog vrede sou kon maak ...
Spyt kom altyd te laat en dit leer ons almal een of ander tyd in ons lewens ... maar ek dink tevredenheid kom altyd te laat ... as jy eerder tevrede is of leer om te wees oor wat jy nie kan verander nie sal soveel dinge anders wees.
No comments:
Post a Comment