Wanneer die haddidas skree dink ek terug aan die droe gras in die transvaal en die warm somersaande.
Ek mis ook die gesig van die kosmosse wat bosse en bosse langs die pad staan en pruik het. Mooi in wit, pienk en pers.
Ons was al oral in Suid-afrika en tog toe ons so 'n ruk gelede nog na die rooi grond gestaar het in die Noord-kaap het ek verlang na die geraas van die seevoels en die reuk van vars seewater.
Daar word gese, wees versigtig waarvoor jy wens, aangesien ons toe wel teruggekom het Weskus toe. Nou is die reuk van 'vars seelug' vervang met die reuk van vismeel. Ek is soms te bang om my wasgoed op te hang, te bang die reuk trek in die klere in. My man se mos dis die reuk van geld ... Seker waar, maar dit is nog steeds onaangenaam.
In Kathu was alles weer vol rooi stof, soos die wind dit ingedra het en nie eens te praat van die ou pragtige 'klein' reenspinnekoppies wat 'n volwasse man sal laat skree soos 'n dogtertjie nie. Die mooi sonsondergang wat teen die rooi duine skyn en die doringbome wat in rye en rye soos 'n oerwoud voorkom.
So het ons elkeen ons gunsteling onthou oomblikke van plekke waar ons al was. As mens maar net alles in een plek kon vind, kosmosse, seelug en rooi grond ... Natuurlik sonder die spinnekoppe. Hoe wonderlik sou dit net nie wees nie.
Doer in die verte blyk alles beter te wees en mooier, maar verhuis na 'n ander streek en jy mis waar jy was.
Waardeer die mooi dinge waar jy nou is en as daar 'n onaangename reukie is, knyp maar jou neus toe met 'n wasgoedpennetjie ...
Sent via my BlackBerry from Vodacom - let your email find you!
No comments:
Post a Comment